'n halssnoer van korhaanfemurtjies langs my op die grond
'n slanghals sprei sy vlerke in gebed
oor my en my verkyker en die groenvlerkduif
waarom is ek so karig?
so onwennig?
waarom vlug ek met my ouderdom soos 'n kroon voor my uitgehou
om nié te onderhandel met die woedende skarniere van die wêreld nie
o die soetgroen kraag van rivierwater lou teen my neushare
dalk word bedoel: droom en brandende drom
dalk word bedoel: na mekaar toe geknak
- dan sal ek moet leer - dan ís ek
dan móét my lyf wees: dáár