Ek is nie Danie is ’n keur uit die digter Danie Marais se vier digbundels: In die buitenste ruimte, Al is die maan ’n misverstand, Solank verlange die sweep swaai en Ek en jy bestaan nie. Daar is ook een nuwe gedig ter inleiding.
Die versameling sluit volledige weergawes van die 18 gedigte in wat tot die opspraakwekkende gelyknamige toneelstuk, Ek is nie Danie, verwerk is. Dié stuk, onder regie van Nico Scheepers, met spel en sang deur Albert Pretorius en musiek deur Schalk Joubert, het in 2025 vier Woordtrofee-toekennings, insluitend beste toneelstuk, ontvang.
Marais se werk is met die Ingrid Jonker-, Eugène Marais-en UJ-debuutprys, ’n SALA-toekenning en die eerste Breyten Breytenbach-prys vir Digkuns bekroon.
Sy toeganklike gedigte knoop intieme gesprekke met die leser aan oor ontheemding in die buiteland, verlange, morsige liefde, gefnuikte verhoudings, ouerskap en die verwarspul van middelklasverknorsings in ’n skisofrene, verskeurde Suid-Afrika. Dis poësie wat diep sny, maar jou altyd laat met die wete: jy brand nie alleen nie.